Om jou eie besigheid op die been te bring en onafhanklik van ’n werkgewer se gesag te wees, is ’n droom wat deur menigte gekoester word en uiters lonend kan wees indien dit realiseer.

Enige klein besigheidseienaar sal egter sonder om te skroom erken dat die uitdagings wat

entrepreneurs daagliks in die gesig staar, kan lei tot groot spanning en later selfs ineenstortings – van die liggaam sowel as die siel. Hoe dan gemaak om voorvalle soos dié te voorkom? Die volgende wenke kan handig te pas kom.

Stel mense aan wat weet wat hulle doen

Die ondergang van menige nuwe besighede is dat hulle werknemers aanstel wat nie ten volle bekwaam is om hulself volkome van hul take te kwyt nie.

Jy sal self weet hoeveel jou besigheid kan bekostig om aan salarisse te bestee, maar dit is beter om eerder klein te begin met ’n handvol bekwame werkers, aangesien jy nie pal gefrustreerd sal wees omdat jou arbeidsmag nie doen wat van hulle verwag word nie.

Vaardige werkers met ervaring sal ook sorg dat jou besigheid vinnig vertroue onder kliënte sal wen, en dit sal daartoe lei dat nuwe besigheidsgeleenthede baie vinniger sal opduik.

Laat jou geld vir jou werk

Die hoofdoel van enige besigheid – maak nie saak hoe groot of hoe klein nie – is om ’n wins te maak.

Vir die eerste twee tot vyf jaar is dit hoogs waarskynlik dat jou besigheid bloot aan die einde van elke maand sal gelykbreek, maar selfs dan is dit belangrik dat jou finansies nooit in die rooi gaan nie.

Stel ’n rekenmeester aan om na jou besigheidsuitgawes om te sien. Hulle weet waar om draaie te sny en seker te maak dat jy gerus kan slaap oor jou onderneming se stand van finansies.

Maak lysies

Stel aan die einde van jou werksdag ’n rooster op vir die volgende dag se aktiwiteite

(vergaderings, strategiesessies ensovoorts) en maak heeltyd lysies met, onderskeidelik, jou take, doelwitte en administratiewe verpligtinge, en maak seker jy prioritiseer.

Sodoende sorg jy dat alle take afgehandel word en dat daar doeltreffend rekord van prosesse gehou word om hulle in die toekoms beter te bestuur.

Dis ook uiters bevredigend om te kan sien hoe jou werk afgehandel word.

Onthou om te ontspan

Om jou eie besigheid te bedryf kan druk plas op jou algehele welstand as jy nie jouself tyd gee om te rus nie.

As jy nie ’n uur elke dag kan neem vir middagete nie, neem dan ten minste ’n halfuur. Maak tyd in jou daaglikse skedule vir ontspanning, en hou getrou daarby. Al benut jy die tyd deur

gimnasium toe te gaan of ’n uiltjie te knip, sal dit jou help om jou kop skoon te kry en met vars dryfkrag weer aan die werk te spring.

Onthou ook dat jou naweke en vakansies belangrik is. Dit is waar dat besigheidseienaars meer tyd moet bestee by die werk om seker te maak dinge word afgehandel, maar jy moet jouself tyd gun om die lewe ook te geniet.

Sit jou werksdag se ure uiteen, en hou daarby. Dit beteken ook dat jy na werk nie enige e-posse of oproepe mag antwoord indien dit nie ’n noodgeval is nie.

Vertrou jou werkers

Dis belangrik dat beide jy en jou werkers die feit dat jy die baas is, respekteer, en ook dat dit op jou berus om groot besluite vir jou besigheid se toekoms te neem.

Jy kan egter nie alomteenwoordige beheer uitoefen nie. Dit sluit aan daarby dat jy mense moet aanstel wat weet wat hulle doen; anders gaan jy hulle nooit vertrou om eienaarskap te neem nie en sodoende gaan werk nooit afgehandel word nie.

Dis ook belangrik om ’n ontspanne, proaktiewe werksomgewing te skep. Sodoende is daar beter sinergie in die werksplek, wat daartoe sal lei dat jou werkers lojaliteit teenoor jou kweek.

Geniet jou werk!

Jy moet jouself herinner aan jou suksesse deur elke nou-en-dan te reflekteer; dis belangrik om trots te wees op dit wat jy doen!

En al mag jy nie snoep wys nie, is dit belangrik dat jy sover moontlik projekte aanpak waaroor jy werklik entoesiasties en passievol is.

Afrikaans-Vriendelik Blog

Gaan deur die nuutste artikels op ons blog.