Onlangse navorsing deur Prof. Christian Friedrich wys dat tussen 70% en 80 % van klein besighede in Suid-Afrika binne 5 jaar hulle deure toemaak. Net 1% van mikro-besighede wat met minder as 5 werknemers begin het, kon groei om 10 mense of meer in diens te neem. Wat is die foute wat entrepreneurs maak waarvan hulle nie kan herstel nie? Hier is die top vyf redes:

  1. Al wat jy kort is geld

As jy meer tyd spandeer om befondsing te soek as om jou produkte te verkoop of jou besigheid te bou – gaan jy deel word van die statistiek. “As jou besigheidsmodel nie werk nie, gaan meer geld dit nie regmaak nie”, het Carter Cast van die Pritzker Groep gesê. Het jy genoeg tyd spandeer om die kreukels uit te stryk vir befondsing om bloot die olie op ’n vuur te wees?

Teveel entrepreneurs gee befondsing die skuld vir hulle besighede wat nie werk nie. Dit is eintlik ’n gulde geleentheid om kontantvloei, begrotingskwessies en jou verkoopstrategie te analiseer. Die enigste rede waarom jy befondsing moet nodig hê, is om ’n model wat reeds goeie resultate lewer, bloot op groter skaal te implementeer. In so geval, is befondsing nie so moeilik soos meeste sou voorhou nie. Vermy om soos baie entrepreneurs befondsing te jaag tot in die afgrond in.

  1. Meer tyd aan ontwikkeling spandeer as verkope

Die bekende besigheidsfilosofie van Eric Ries, genaamd “The Lean Startup Principle” meen dat indien jy ’n perfekte produk in die mark sit, jy reeds te laat is. Entrepreneurs wat al hulle tyd in die ontwikkeling van die idee of die produk spandeer en nie vinnig genoeg hulle produkte in die mark kry nie, se tyd hardloop vinnig uit. Hoe beter entrepreneurs dink hulle hul produkte ken, hoe meer geneig is hulle om te dink dat hulle nie terugvoer nodig het nie. Loods eerder jou halfgebakte e-winkel en begin verkoop, want jy gaan vinniger lesse leer as die een wat agt maande langer vat om alles 100% te kry.

Soos jou besigheid groei raak dit weer en weer ’n risiko vir entrepreneurs soos hulle hul aandag verskuif van verkope na projekte wat hulle meer geniet. Verkope is die hartklop van jou besigheid en entrepreneurs wat te lank vat om hulle vinger weer op die pols te kry, trap gou in die kontantvloei-slaggat.

  1. Jouself te isoleer – en nie ondersteuning kry nie

Leierskap, fokus en unieke sakekennis is kompeterende voordele wat jou kompeteerders nie kan namaak nie. Entrepreneurskap is dikwels ’n eensame bedryf waar jy met jou eie idees stoei en self al die besluite maak. Dit kan in ’n oogwink gebeur dat jy jouself isoleer van ander entrepreneurs of kliënte wat van buite af na jou besigheid kyk. As jy nie aanhou jouself ontwikkel, jou netwerk aanhou bou en nie met jou kliënte in aanraking kom nie – is jou tyd getel.

Maak ’n punt daarvan om boeke of artikels te lees oor die uitdagings wat jy in jou besigheid ervaar. Kry ’n groep vriende, besigheidseienaars of mense wat jy respekteer met wie jy op ’n gereelde basis mee kan bymekaarkom om jou idees te toets. Kry ’n mentor wat jou kan help met struikelblokke wat opduik en hou aan om jou netwerk uit te brei.

  1. Verwar ’n produk met ’n besigheid

Produkte is ’n voertuig wat besighede gebruik om geld te genereer, besighede is nie voertuie om produkte mee te verkoop nie. Daar is ’n verskil tussen ’n produk wat jy verkoop en die strukture, hulpbronne en sisteme wat produkte vir jou verkoop. Entrepreneurs maak die fout om te dink dat hulle besighede bedryf, terwyl hulle hele besigheid van ’n enkele produk afhanklik is. Die gevaar is dat jy nooit jou besigheid werklik groei nie en jou besigheid maklik vatbaar is vir onstabiliteit.

Probeer jou inkomstestrome diversifiseer so gou jy kan, toets produkte vinnig sodat jy meer produkte kry wat werk. Stel werknemers aan of kontrakteer spesialistake uit sodat jy ’n span kan bou. Bou ’n bemarkingsisteem wat vir jou deurentyd verkope kan verseker en versamel datalyste van jou kliënte. Alles wat opgerig word wat nie meer die entrepreneur nodig het om te funksioneer nie, is iets wat ’n besigheid bou en nie net ’n produk nie.

  1. Om die data te ignoreer

Data is altyd beskikbaar. Entrepreneurs het toegang tot hoeveel verkope hulle maak in verhouding tot die bemarking wat hulle doen. Hulle het toegang tot wie hulle beste kliënte is en wie hulle beste werknemers is – maar hulle gebruik dit nie om besluite mee te maak nie. As jou nuwe produk nie verkoop nie, en die syfers bewys dit, help dit nie jy probeer jouself flous nie. Entrepreneurs sukkel om hulle besighede om te draai as hulle al teveel nodige besluite laat oorsien het. Sny die produk af wat swak presteer, kanselleer die kontrak met die diensverskaffer wat nie presteer nie en dank die werknemer af wat jou besigheid se tyd en potensiaal steel.

Om foute te maak is deel van entrepreneurskap. Die geheim is om foute vinnig te maak en nie saam te sleur vir die res van jou entrepreneursreis nie. Werk aan jou besigheid eerder as net in jou besigheid – en jy sal die noodligte sien lank voor dit dodelik is!

Afrikaans-Vriendelik Blog

Gaan deur die nuutste artikels op ons blog.