Hoekom wil jy ’n sakeplan skryf? Die eerste stap is om te besluit wat die doel van jou plan is. As jy nie ’n sakeplan wil skryf vir een van die volgende redes nie, is hierdie artikel nie vir jou nie:

  • Jy wil aansoek doen vir befondsing by ’n bank, vriende, vreemdelinge of familie.
  • Jy het ‘n nuwe idee en is onseker oor die werkbaarheid van jou plan en kort duidelike doelwitte.
  • Jy het ’n bestaande besigheid en wil uitbrei, maar is bekommerd oor kontantvloei en benodig insette van ander.
  • Jy beplan om aansoek te doen vir ’n tender of ’n langtermyn huurkontrak. Of jy benodig ’n besigheidsprofiel en wil vir jou werknemers die toekoms uitstippel.

 

Die waardevolste rede om ’n sakeplan saam te stel is om self ’n beter begrip van jou besigheid te kry. ’n Plan forseer entrepreneurs om die werkbaarheid van ’n idee te toets, om kompetisie te oorweeg, slaggate raak te sien en praktiese maniere te bedink om hulle mark te bereik.

 

Basiese riglyne vir ’n slim sakeplan is:

  • Hou dit eenvoudig en gebruik verstaanbare taal. As taal nie jou sterkpunt is nie, maak seker iemand anders lees dit deur voor jy dit vir die bank aanstuur.
  • Vermy statistieke en navorsing wat nie ’n direkte invloed op jou besigheid het nie.
  • Skryf altyd jou inleiding laaste, ’n goeie oorsig is noodsaaklik vir ’n suksesvolle sakeplan.
  • Wees realisties en verduidelik hoekom jou syfers werkbaar is. Vermy buitensporige voorspellings van verkope as jy nie daadwerklik dink dit moontlik is nie.
  • Moenie die dele wat jy nie verstaan, afskeep nie. As jy nie ’n kontantvloei staat kan saamstel nie, beteken dit nie jy hoef nie een in te sit nie.
  • Wees krities op jou eie idee, dui aan waar jy dink jou tekortkominge is en wees eerlik oor die foute wat jy al gemaak het. Beleggers waardeer ’n entrepreneur wat bereid is om te leer en hom of haarself ken.

 

Hier is ’n maklike templaat wat jou sal help om jou idee op papier neer te pen, sonder frilletjies en sonder onnodige afdwaal paaie.

TEMPLAAT: BESIGHEIDSPLAN

 

[NAAM VAN BESIGHEID]

[SAAMGESTEL DEUR: _____ ]

[BESIGHEIDSREGISTRASIE NR]

[TEL/SEL]

[ADRES]

 

INHOUDSOPGAWE

  1. INLEIDING…………………………………………………………………………………………………………. 1
  2. OPERASIONELE OORSIG……………………………………………………………………………….. 1
    • DIE Span………………………………………………………………………………………………………. 1
    • VISIE EN MISSIE…………………………………………………………………………………………… 1
  3. PRODUKTE……………………………………………………………………………………………………….. 2

3.1           PRYSE………………………………………………………………………………………………………… 2

  1. MARK ANALISE………………………………………………………………………………………………… 2

4.1           TEIKENMARK…………………………………………………………………………………………….. 2

4.2           MARKPATRONE………………………………………………………………………………………… 3

  • INDUSTRIE ANALISE……………………………………………………………………………………. 3
  • BEMARKING………………………………………………………………………………………………….. 5
  1. FINANSIES………………………………………………………………………………………………………… 5
    • BEGINKOSTES……………………………………………………………………………………………… 5
    • FINANSIELE POSISIE…………………………………………………………………………………… 5
    • FINANSIëLE VOORUITSKATTING……………………………………………………………….. 6

 

 

[NAAM VAN BESIGHEID]

 

1.        INLEIDING

 

Die inleiding moet laaste geskryf word. Hierdie is sekerlik die belangrikste deel van die sakeplan. Die doel van die inleiding is om:

  • Die plan as ’n geheel op te som.
  • Die grootste voordele of verkoopspunte uit te lig.
  • Die konsep van die besigheid duidelik te omskryf.

 

Vir ’n goeie inleiding kan jy die volgende struktuur gebruik:

  • Paragraaf 1: Verduidelik wanneer die besigheid begin het, wat jou produk of diens is en wat jou uniek maak.
  • Paragraaf 2: Som jou strategiese plan in ’n paragraaf op, verwoord presies wat jy wil bereik en hoe jy dit gaan doen.
  • Paragraaf 3: Hier kan jy in meer detail gaan. Omskryf jou aksiestappe, skep meer konteks oor jou idee en die suksesse wat jy reeds behaal het.
  • Paragraaf 4: Sluit af en dui aan wat die leser in die res van die sakeplan kan verwag.

 

 

2.        OPERASIONELE OORSIG

 

Die operasionele oorsig is waar jy bewys dat jy ’n besigheid kan bedryf. Die resep vir ’n besigheid wat goed funksioneer is die mense, die visie en die produk.

 

2.1.    DIE Span

 

Om jou te help met hierdie gedeelte, vra jouself die volgende vra:

  1. Wat kwalifiseer jou om ’n besigheid te bestuur?
  2. Watter kwalifikasies of ervaring het jy?
  3. Hoe werk jou en span saam en wat is elkeen se verantwoordelikhede?
  4. Waar benodig jy kapasiteit?
  5. Wat is jou en jou span se sterkpunte?

 

 

2.2.    VISIE EN MISSIE

 

Die visie van jou besigheid is die bestaansrede van jou idee. Wees eerlik oor waarom jy wil doen wat jy doen en vermy algemene frases soos om “kwaliteit produkte te lewer”, “die beste diens te verskaf” of om “die wêreld ’n beter plek te maak”. Visie beteken nie jy het toestemming om iets te sê wat nie tasbaar gemeet kan word nie. Stel ’n visie waarin jy glo en wat jy deur middel van duidelike aksiestappe (missie) kan bereik. Jou visie is iets waarna jy gaan strewe maar wat prakties bereik kan word. As jy werklik die beste tuindienste wil wees, stippel uit in watter gebied, hoe jy dit wil doen en wat jou die beste sal maak.

 

As jou visie is om ’n koek te bak, is die missie jou bestandele. Om die beste tuindienste te hê beteken jou missie gaan wees om top gehalte werknemers aan te stel, altyd stiptelik wees en meer vir kliënte doen as wat jy belowe het.

 

3.        PRODUKTE

 

Gee die leser ’n beter idee oor wat jou produk of diens behels. Vra jouself die volgende af:

  1. Wat maak jou produk of diens uniek?
  2. Hoe werk jou produk en wat behels jou diens alles?
  3. Wat kry ’n kliënt as hulle by jou koop?
  4. Wat is die hoër waarde wat jy verkoop? Byvoorbeeld Volvo verkoop veiligheid, Toyota verkoop gemoedsrus en Coca Cola verkoop verfrissing, wat is die waarde wat jy toevoeg?

 

3.1    PRYSE

 

Deel van die operasionele plan is om te kan wys dat jou produk of diens bruikbaar en werkbaar is. Skep onderafdelings vir die “Produk” gedeelte indien jy wil uitbrei oor wat jou produkte kos, verskillende kategorieë van produkte het of die voordele verder wil uitbrei.

 

Prys is ’n belangrike gedeelte omdat dit insig gee oor die marges van jou produk, wat dit kos om te vervaardig en wat jou vervaardigingsproses behels.

 

4.        MARK ANALISE

 

Die mark analise se doel is om te bepaal hoe die industrie lyk waarin jy jouself bevind, op watter deel van die mark jy jouself op gaan toespits en of die omgewing waarin jy is, gunstig is vir die plan wat jy wil uitvoer.

 

4.1    TEIKENMARK

 

Vrae wat in dié gedeelte beantwoord moet word sluit in:

  1. Wat is die ouderdom, die gewoontes, inkomstegroep, stokperdjies, geografie en geslag van jou ideale kliënt?
  2. Waar kom jou teikenmark bymekaar, waaraan spandeer hulle hul tyd en hoe gaan jy hulle bereik?
  3. Behalwe vir jou ideale kliënt, is daar enige ander demografie wat ook in jou produk of diens sal belangstel?

 

4.2    MARKPATRONE

 

In hierdie gedeelte gaan jy jou navorsing moet doen. Markpatrone is die tendense en drywers wat wys dat daar ’n mark is vir jou produk. As jy ’n aanlynwinkel begin, wys dat aanlynaankope in Suid-Afrika styg. As jy ’n hoenderboerdery begin, wys dat die aanvraag na hoendervleis in jou gebied uit sy nate skiet. As jy ’n Italiaanse restaurant begin, wys dat jy ’n meningspeiling gedoen het van inwoners in die gebied en dat hulle opsoek is na alternatiewe eetplekke.

 

Vermy om net navorsing te soek wat jou standpunt ondersteun. Doen jou eie navorsing en wees eerlik oor wat die tendens is. Tipiese navorsing wat jy kan aandui is:

  • Die spanderingspatrone van kliënte in jou gebied of industrie.
  • Die opneem of afneem van jou teikenmark.
  • Die styging of daling van produkte wat direk die vraag na jou produk affekteer.
  • Eksterne faktore wat bydrae tot ’n groter vraag na jou produk of diens.
  • Verwysing na koerantartikels of nuuskommentare wat jou ontleding bewys.

 

4.1.    INDUSTRIE ANALISE

 

Die industrie analise is anders as die mark analise aangesien dit op jou kompeteerders fokus. Waar die mark analise op die omgewing en tendense fokus, is die industrie analise ’n direkte vergelyking met hoe ander besighede in dieselfde mark hulself handhaaf.

 

Die onderste tabel is ’n uiteensetting wat jy kan invul om jou kompetisie te identifiseer, hulle te analiseer ten opsigte van bedreiging, watter produkte hulle  op fokus, wat hulle voordele is, hoe dominant hulle in die mark is en wat mense se persepsie van hulle is. In die laaste kolom is geleentheid om jou eie strategie uit te stippel oor hoe jy beplan om te kompenseer vir jou kompeteerder se sterk en swakpunte.

 

Tabel 1: Kompetisie analise

Kompetisie Analise
VB: Toyota Bedreiging Hoog VB: Ons teikenmark is op jonger mense gefokus wat beteken dat ons nie direk met Toyota kompeteer nie. Ons moet wel meer op plattelandse gebiede fokus waar jongmense minder opsies het. Ons kan nie kompeteer met betroubaarheid nie en moet daarom benadruk dat ons handelsmerk stylvol is.
Fokus Sedan & familie motors
Teikenmark 35-60 jariges
Kompeterende voordeel Betroubaarheid, tweedehandse verkoopswaarde
Mark dominansie Stede (Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein & Kaapstad)
Betroubaarhied/Kwaliteit Goed
Bedreiging
Fokus
Teikenmark
Kompeterende voordeel
Mark dominansie
Betroubaarhied/Kwaliteit
Fokus
Teikenmark
Kompeterende voordeel
Mark dominansie
Betroubaarhied/Kwaliteit
Bedreiging
Fokus
Teikenmark
Kompeterende voordeel
Mark dominansie
Betroubaarheid/ Kwaliteit

 

 

4.2.    BEMARKING

 

Bemarking behels jou kommunikasiekanale soos nuusbriewe, SMS’e, sosiale media, jou webtuiste, mediaverklarings en video’s. Met jou bemarkingstrategie moet jy kan wys hoe jy ‘n “vangnet” gaan opstel om die verkope te kry wat jy beloof.

 

Voorbeelde van onderopskrifte:

  • Kompeterende voordeel
  • Sosiale media strategie
  • Afsetgebiede
  • Kommunikasiekanale
  • Generering van data
  • Lojaliteitsprogram

 

5.        FINANSIES

 

5.1.    BEGINKOSTES

 

Jou eerste doel is om vir jouself of beleggers sekerheid te gee oor wat jy nodig het om te begin. Wat is die kapitaal of hulpbronne wat jy gaan nodig hê?

 

Belangrike vrae om te beantwoord:

  • Hoeveel gaan elektrisiteit, arbeid, salarisse, skryfbehoeftes, brandstof, selfoon, versekering en vervaardigingskostes jou uit die sak jaag?
  • Hoeveel beraam jy vir onvoorsiene uitgawes?
  • Wat is die totale bedrag wat jy vir die eerste maand gaan nodig hê?
  • Wat is die totale bedrag wat jy in die eerste drie maande gaan nodig hê?

 

 

5.2.    FINANSIELE POSISIE

 

Hier moet jy aandui wat jou huidige finansiële posisie is. Beleggers wil sien waar jy is sodat hulle kan weet wat jy gaan nodig hê. Verder is dit ook belangrik om te weet of die besigheid gesond genoeg is om daarin te kan belê. Indien jy nog nie die besigheid begin het nie, sal jy in hierdie gedeelte aandui watter spaargeld jy persoonlik het om in die besigheid te belê of wat jy reeds in die besigheid spandeer het.

 

Die opsomming oor jou finansies kan die volgende insluit:

  • Finansiële state: Balansstaat, Inkomste en uitgawe staat, kontantvloeistaat.
  • Wat jou verkope die afgelope jaar was.
  • Hoeveel geld jy tans in die besigheid se bankrekening en spaarrekeninge het.
  • Hoeveel kontant in voorraad vasgevang is.
  • Wat jou gemiddelde uitgawes en verkope is per maand.

 

5.2.    FINANSIëLE VOORUITSKATTING

 

Die finansiële vooruitskatting is ’n realistiese blik op hoeveel verkope jy beplan om te maak. Die doel hiervan is om ’n prentjie te skets van jou huidige finansiële posisie, wat jy beplan om te verkoop en wat jy gaan nodig hê om te begin. Let wel dat instansies soos banke of ander finansiële instellings die volgende finansiële state sal benodig as vooruitskatting van verkope:

  • Kontantvloeistaat
  • Inkomste en uitgawe staat
  • Balansstaat

 

Dit is belangrik om aan te dui hoe jy die verkope gaan haal wat jy vooruitskat. As jy aandui dat jy 1000 boeke in jou boekwinkel in die eerste maand gaan verkoop, gaan jy moet verduidelik dat jy reeds massas bestellings het, by ’n ekspo gaan uitstal en ooreenkomste het met verspreiders. As jou verkope vooruitskatting na drie maande opskiet, is dit omdat jy nuwe produklyne beplan? Brei jy jou teikenmark uit? Het jy kontrakte wat binne ’n paar maande gaan realiseer? Elke vooruitskatting wat jy maak moet jy self van oortuig wees.

 

Opsomming

 

’n Sakeplan is nie iets wat stof moet vergader nie, dit is ’n lewendige dokument wat dalk oor ses maande of ’n jaar aangepas moet word. Die eindbestemming van ’n skip word nie net bepaal deur die wind nie, maar deur die rigting van sy seil. So is finansiering en die dag tot dag take in jou besigheid nie al wat die uitkoms bepaal nie, maar die plan wat jy opstel voor jy jou reis begin.

Afrikaans-Vriendelik Blog

Gaan deur die nuutste artikels op ons blog.